Arra Vineyards Tasting Room
Reviewed Arra Vineyards
on January 24th, 2010 at 22:50

Arra is ‘n oase na die stofpad op ‘n snikhete dag. Die moderne wit proelokaal is die koel tuiste van kunswerke, moderne meubels, en gasvrye personeel. Neil Conventry en sy span ontvang ons soos familie met vars koffie en verleidelike eetgoed. Ons groepie wynvlieë vergader en Dee vertel ons van haar wynskeppings geklee in die allermooiste etikette wat lug, water, en die wingerde kunstig uitbeeld.

Ons begin met ‘n vars, ligte Blanc de Noir waarna ons twee oesjare van Dee se gunsteling kultivar proe – Viognier 08. Ons proe beide die gereserveerde en ongereserveerde Viognier; eersgenoemde in drie fases gepluk, gehout en meer kompleks, lassgenoemde is weer ligter en soeter en my gunsteling. Van die 04 Shiraz is daar slegs 2 300 bottels gevul. Die 07 Shiraz is nog nie vrygestel nie – wat ‘n voorreg! Laaste proe ons die 06 Barrel selected Cab waarvan daar slegs drie vaatjies beskikbaar is – eers ‘n voorreg!

Doen jouself ‘n guns en gooi ‘n draai by Arra, ‘n plaas vol verrassings (hier hang die toekennings in die toilet) én vernuftigheid.

Dankie aan Arra, Anel en al die wynvlieë vir ‘n onvergeetlike dag! En Martin – agteros kom ook in die kraal…

 
Glenelly Estate_2011_045 (1)
Reviewed Glenelly Estate
on January 24th, 2010 at 22:20

Madame May Eliane de Lencquesaing se plaas is, net soos haar titel en naam, imposant. Dié plaas getuig van ‘n passie vir die bedryf en wyn. Madame is glo self baie betrokke en skroom nie om haar moue op te rol nie.

Die gravitasiekelder, gebou in 04, is ‘n koel kubus op ‘n warm somersdag en die koue sementvloere verwelkom ons. ‘n Bekwame Francois Kotze vul ons glase en verskaf brokkies oor die plaas en Madame. Ons bewonder die glas-en ander kunswerke wat twee vloere vul asook die twee rye reuse staaltenks wat in gelid staan in die kil kelder. Tussendeur proe ons wyn: 2003 Zebra versnit – baie drinkbaar; die 2004 Glenelly Siraz/ Cab/ Merlot versnit is ‘n sagte wyn; die wenner by uitstek is die 2006 Glenelly – lieflik en defnitief die vier en ‘n halwe sterre werd. Wit wyne is glo die volgende items vir die wynlys.

Hier staan Madame en haar span met hul voete op die aarde – geanker in geloof en beman met passie. Wat ‘n fonds van ‘n plaas – en dit op die drumpel van Stellenbosch!

 
delairegraff_04-edited
Reviewed Delaire Graff Estate
on January 24th, 2010 at 21:57

Draai al jou vooroordele teenoor die ‘ou’ Delaire toe in ‘n sakdoek en gooi dit oor jou linkerskouer of plak dit in jou plakboek. Want hier het ‘n nuwe imponerende wynlandgoed verrys, ‘n ware Phoenix.

Vanaf die ingang, getooi in natuurlike boustene en gestapelde klipmure – omsoom met aardse aalwyne en fynbos, word dit duidelik dat baie tyd en geld hier geïnvesteer is. Bekwame personeel wys waar jy jou beskeie motor kan parkeer tussen die spogmotors. Bronsbeelde verfraai die tuine en met die intrapslag is jy oortuig jy het ‘n hotel betree – kristal en glas en steen en water wat kibbel in ‘n dubbelvolume ontvangslokaal. Kunswerke van wêreldberoemde kunstenaars, William Kentridge inkluis, is oral te bespeur.

Jacqueline van Wyk is ons gasvrou wat ons in die luukse proelokaal – gevul met kunswerke en stylvolle meubels, verwelkom en begelei deur die wynproe. Die groep wynvlieë in die geselskap proe met geesdrif ses wyne elk, en ons vergelyk wynvoorkeure ensomeer. Ek proe detox-katspoegies van vier wyne: die 09 Cabernet Franc Rose is besonders, en propvol kersie. Die 09 Coastal Sauvignon Blanc is lieflik vars alhoewel die neus skaam is. Die sagte 07 Shiraz bekoor en die 06 Delaire Red (Bordeaux versnit) is ‘n vol, gebalanseerde wyn.

Nou ja, as jy jouself of besoekende gaste wil bederf én wil beïndruk, besoek gerus dié plaas. Delaire is voorwaar ‘n belewenis!

 
16082008016
Reviewed Mooiplaas
on January 14th, 2010 at 20:54

My vriendin is ‘n Roos. Of liewer, sy is familie van Tielman Roos en dié se nageslagte, waaronder die Roos familie van Mooiplaas val. En sy vergesel ons na dié mooi plaas toe. Sowaar ‘n fees vir die oog met pragtige opstal en tuine en oudhede. En in die perdestal cum proelokaal – perdekrippe omskep in proetafels, kompleet met strooi sigbaar onder die glasblaaie. Hier kan mens lekker kuier! En lieflike wyne proe en drink. Mooi!

 
060620093996
Reviewed Major’s Hill Winery
on January 14th, 2010 at 20:45

Ek besoek Robertson gereeld. En elke keer besoek ek Major’s Hill neffens die koppie en ry met die industriële betonryvlak op na die proelokaal. En elke keer is die kelder en proelokaal gesluit. Sal maar moet aanhou probeer…

 
281220091732
Reviewed Marianne Fine Wines
on January 10th, 2010 at 18:50

Ek het nie die proelokaal besoek nie, want dié wynplaas is ook die tuiste van die befaamde Olivello restaurant. Laurille en Lynne, die eienaars van Olivello, is ou hande van Café Paradiso-faam en kan omtrent vernuftig toor met hul disse. En Marianne se wyne word opgedis saam met die heerlike etes – wit en rooi het my beide bekoor. Ek sien uit daarna om die plaas se wyne oor ‘n paar jaar te proe – groot verwagtinge om die relatief nuwe plaas (2004) se Franse invloed te proe.

 
130220091581
Reviewed Louiesenhof
on January 10th, 2010 at 18:33

Rustige, ongekompliseerde wynproe-ervaring. Kindervriendelik, ontspanne en vrolik – amper asof jy by iemand aan’t huis kuier. Lekker wyne daarby.

 
lo1
Reviewed L’Ormarins
on January 10th, 2010 at 18:28

Terwyl ek deeltyds as kelnerin by ‘n silwerdiens, vyfster-spysenieringsonderneming gewerk het, het die spysenier altyd daarop aangedring om L’Ormarins se wyne te bedien. Ek het toeka niks veel van dié wynplaas geweet nie. Intussen het ek Kaap toe verhuis en self L’Ormarins se drempel betree, weliswaar voor Anthonij Rupert se tragiese ongeluk. Toé het Pierneef skilderye die mure versier en statige wyne is in die gewyde atmosfeer geskink. Ek sal maar moet terugkeer vir die nuwe Italiaanse-styl wyne asook die motormuseum…

Ek het wel die Anthonij Rupert Cabernet Sauvignon 2005 by die Vinyard Hotel se Sauvignon fees laat in 2009 geproe. Of eerder gedrink – die bemanner van die kraffie peperduur voggies het vrygewig die laaste robynstraal in ons leë glase geskink teen die einde van die aand. Hemels en dit was die hoogtepunt van die aand!

 
08112008154
Reviewed Lievland Estate
on January 10th, 2010 at 18:01

‘n Lieflike plaas om in te sluit as jy die R44 se wynplase toer. Die shiraz bly my by…

 
lanzerac-hotel-stellenbosch
Reviewed Lanzerac Wines
on January 10th, 2010 at 17:54

Ek was nog op Hoërskool toe ek en my ouers op ‘n vakansie vanaf die Hoëveld na die Kaap, die eerste maal by dié imposante wynplaas aandoen. Christo Wiese het intussen die eienaarskap oorgekoop en die hotel is opgegradeer. Die wyne muteer ook, met meer klem op Pinotage. Die wyne skitter dalk nie met ‘n rits sterre in gelid nie, maar is hoogs drinkbaar, veral is so ‘n estetiese omgewing!

 
lamotte2
Reviewed La Motte
on January 10th, 2010 at 17:45

Alhoewel ek nog nie die nuwe proelokaal besigtig het nie, kan ek wel sê dat Hanneli Koegelenberg (neé Rupert) se plaas glad nie tiperend van Franschhoek is nie. Die personeel is plat op die aarde, die kunswerke is besonders, en die plaas se inisiatiewe bekoor – van blomolies tot by opheffingswerk en organiese druiwe. Die wyne self is defnitief iets om oor huis toe te skryf – veral as jy ‘n rooiwynliefhebber is. Skink dit en geniet dit!

 
16092009197
Reviewed Laborie Estate
on January 10th, 2010 at 17:28

Laborie is ‘n kroonjuweel in die tiara van die Paarlwynroete. En wynjuwele wag net vir jou. ‘n Historiese plaas, sigbaar vanaf Paarl se hoofstraat. Die hoogtepunt was die Pineau de Laborie – koninklike soet druppels op jou tong. Amen.

 
Reviewed Joostenberg
on January 10th, 2010 at 17:12

As jy nog nie by die Klein Joostenberg Deli & Bistro was nie, hou jy seker nie van varkvleis nie. Ook nie van egte Franse brode of deli-produkte nie. Wat nog te sê van ‘n kindervriendelike restaurant.

My Duits-van-oorsprong-buurvrou het my na Klein Joosteneberg toe verwys vir die gehalte varkprodukte – petite spekblokkies, gerookte ribbetjies, kassler, varknek, tjops, ensomeer. Die Myburgh-familie se wyne word ook in die deli bemark en verkoop. ‘n Toonaangewende restaurantgids beskryf Christophe & Susan Dehosse se bistro as onpretensieus maar uitsonderlik in standaard en uitmuntende waarde vir geld.

Ja, moet ook nie met die wyne geflous word nie – driekwart van die wyne is vier sterre of meer toegeken in die Plattergids. Beslis ‘n besoek werd – maar maak ‘n uitstappie van die besoek en geniet ‘n rustige middagete onder die bome; dit is nou nadat jy jou mandjie met plaasproviand aangevul het.

 
mulders
Reviewed Kanu Vineyards
on January 10th, 2010 at 17:03

Ek het in 1999 ‘n funksie by Kirstenbosch se (destyds) nuut ontwerpte restaurant bygewoon. ‘n Onbekende, nuwe wynplaas, genaamd Kanu, se wyne was bedien. Ek was aangenaam verras. Die embleem was ongewoon, kunstig en het my nuuskierigheid oor die wynplaas was geprikkel.

Sedertien het Kanu verras met onder andere Maori wynbenaminge, kunsuitstallings, gesonder wyne met laer alkoholvlakke en wilde gisting. Self was ek nog nie op die plaas wat soveel komplimente in-oes nie, maar ek hoop om in 2010 my glasie daar te gaan vol skink. Ek is seker dat my beker sal oorloop…

 
mulderbosch-028
Reviewed Kanonkop Wine Estate
on January 10th, 2010 at 16:42

Meesterlike wyne met ‘n onbesproke karakter en elle lange geskiedenis. Jy hoef nie eers te proe nie, jy kan maar net betaal en inlaai.

 
Restaurant Image
Reviewed Jordan Winery
on January 10th, 2010 at 16:32

Om te Jordan of nie te-Jordan nie, is lankal nie meer die vraag nie. Die Jordan duo, Gary en Kathy, se filsofie strek veel wyer as wyn. Verkleurmannetjies en Biodiversiteit word sterk ondersteun. Voeg manjifieke wyne daarby soos die Cobblers Hill en Nine Yards Chardonny wat legendariese status verwerf het, en jy het ‘n wenwynplaas. Die pad soontoe alleen is salwing vir die gees… Doen jouself ‘n guns en verbly jou hart EN palet met Jordan se wyne.

 
0705200934621
Reviewed Iona Vineyards
on January 10th, 2010 at 15:58

Ons ry vanaf Kleinmond via die skilderagtige grondpad deur die Kogelberg Biosfeer, na die Elgin Vallei. Ons gewaar vanaf die pad die skouspelagtige opstal en herehuis van Iona, die Gunn’s se wynplaas wat meesterlike witwyne skep. Let wel nie maak nie, want die witwyne is inderdaad kunswerke. Ek het Andrew Gunn laat 2009 by die Sauvignon-fees by die Vineyard Hotel raakgeloop – blykbaar is Iona se tuine heruitgelê en lyk dit te pragtig daar. Sien uit daarna, om as ek weer in daardie kontrei is, die uitsonderlike plaas weer te besoek.

 
hermanuspietersfontein1
Reviewed Hermanuspietersfontein
on December 13th, 2009 at 23:41

Dié oorspronklike benaming vir die dorp Hermanus is ‘n mondvol. Net soos die 1855 Boeremark. Diè mark is neffens die Hemel en Aarde sentrum, ‘n inisiatief van die Hermanus Pietersfontein Wynlandgoed. ‘n Moderne mark, opgedollie in ‘n plaasgeurtjie en verpak en bedien met styl. Sommer met die intrapslag in die sement ‘arena’, word daar ingesit op ‘n hoë noot: bosse proteas te koop op ‘n eerlikheidsbasis – koop jou blomme en gooi jou munte in die kissie. Die stalletjie eienaars is uitgedos as voëls van dieselfde kleur – almal in enerse voorskote en met ‘n hoogs aansteeklike skoot gasvryheid beman.

Wyn word geproe, olywe en Tant Annie se gebak bespreek, en tou gestaan vir die moerkoffie.
Batho Eksteen is onbeskaamd Afrikaans en wyn met name soos Kleinboet, Swartskaap en Bloos, rol rond en ryk op die tong. Hetsy wit of rooi, hier is iets vir almal se smaak en sak. Die Arnoldus, Die Martha en Die Bartho is die ernstiger kant van die wynfamilie – die vele akkolades getuig daarvan. Bartho se pure-plaas wyne sal selfs die mees stoïese wynsnob verras.

Die oom wat langs my by die tafel sit, skroef sy marmelade oop en geniet dit saam met sy ciabatta brood en ander markware. Sy tafelgenoot is paraat het selfs haar eie piekniekstel gebring. Ons knibbel aan sjokelade en verkas dan weer terug na ons naweekwerf toe.

 
13092009125
Reviewed Hamilton Russell
on November 24th, 2009 at 23:10

Die Hemel-en-Aarde vallei is bekoorlik; dié prentjiemooi wynplaas verlei mens oombliklik. Die Pinot Noir is ‘n bloesende meisie na haar eerste soen. Ongelukkig onbekostigbaar duur. Maar dan, kan mens waarlik die prys van die liefde bepaal?

 
GrootConstantia
Reviewed Groot Constantia
on November 24th, 2009 at 01:07

Boela maak ‘n groot verskeidenheid wyn. Die Grand Constance voer mens terug na dié historiese plaas se ryk verlede – soet satyn… Die Sauvignon Blanc is vars en skoon; die Semillon versnit is gemaklik op die tong. En natuurlik is die MCC ‘n regte bederf.

Die plaas besoek ons gereeld vir funksies of kunsuitstallings of stap tussen die wingerde of hou piekniek op die gras. En so gerieflik naby die stad geleë.

 
07012009724
Reviewed Groenland
on November 24th, 2009 at 01:04

Kosie Steenkamp se groot honde verwelkom jou op die werf. Die ronde proelokaal was voorheen ‘n plaasdam – slim ontwerp! Die Antoinette Marié Reserve is ‘n besonderse wyn. En vrou, neem ek aan.

 
220520093628
Reviewed Grande Provence
on November 24th, 2009 at 01:02

Wat ‘n lieflike plaas! Buite staan ‘n klompie perde sonder ruiters in ‘n sirkel, binne drink ruiters wyn van die engele… Wyne vir alle smake in ‘n praglokaal.

 
260220092010
Reviewed Graham Beck Wines
on November 24th, 2009 at 01:00

Ons besoek die kelder tydens die Franschhoek Uncorked-fees. Ons word buite verwelkom deur kunswerke in die tuin en binne skink Pieter Ferreira self in die proelokaal. Hy beantwoord beleefd en beskaafd my menigte vrae. Die wyne is spesiaal, veral die Ultra Premium-reeks met name wat soos ‘n geslagregister lees: Joshua, Andrew en William. Die MCC-reeks bly my gunsteling. Borrels by die dosyne met die Blanc de Blancs die podiumwenner. Baie elegant.

 
050620093728
Reviewed Graham Beck
on November 24th, 2009 at 00:57

Die moderne kelder is altyd gepak met jong, mooi fashionistas met selfone teen hul ore en ontwerper-sonbrille op hul neuse. En hulle proe en drink met mening; grootskaals. Ja-nee, die kelder blaas stylvolle lewe in die stowwerige kontrei. Die wyne is spesiaal, veral die Ultra Premium-reeks met name wat soos ‘n geslagsregister lees: Joshua, Andrew en William. Die MCC-reeks bly my gunsteling. Borrels by die dosyne met die Blanc de Blancs die podiumwenner. Baie elegant.

 
30082009014
Reviewed Glen Carlou vineyards
on November 24th, 2009 at 00:31

Arco ken van wynmaak. Voeg kuns en kos daarby en jy kuier lekker hier.